Die saak teen Dieter Bergs wat na bewering sy vrou, Genèe Bergs, vermoor het, is vandag weer in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg uitgestel. Genèe se dogter het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag versuim het om Dieter te vervolg. Die privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in dié saak op wat reeds vir meer as agt jaar sloer.
Dieter (87), wat luidens ’n psigiatriese verslag onbevoeg bevind is om verhoor te word, word daarvan beskuldig dat hy na bewering tussen 2013 en 2014 vyf misdade gepleeg het. Dit sluit in die moord op Genèe, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente.
Die hof kon moontlik vandag uitspraak gelewer het, maar Dieter se verdedigingspan het vandag aansoek gedoen om uitstel omdat die prokureur aangevoer het dat hy siek was en nie sy hoofde van betoog betyds kon liasseer nie. Dieter sal, indien hy skuldig bevind word, vir die res van sy lewe as ’n staatspasiënt by ’n instelling vir verswaktes aangehou word. Indien hy nie verhoor en skuldig bevind word nie, kan hy by Genèe erf wat nie die geval sal wees as hy aan haar moord skuldig bevind word nie.
