AfriForum se Benoni-tak fokus nie net op die herstel en instandhouding van infrastruktuur nie, maar dra ook ruim by om instansies wat na kinders en bejaardes omsien te ondersteun. Hierdie tak met sy sowat 1 400 lede maak gereeld ’n bydrae om die nood te help verlig of rol self moue op om skoon te maak of klimrame te bou. Hulle doen ook ekstra moeite om hierdie inwoners se Paas- en Kersfees spesiaal te maak en die inwoners word op hierdie dae met eetgoed en geskenke bederf. “Ons het hier betrokke geraak omdat die nood groot is en ons voel dat ons hier ’n leemte kan vul,” sê Fransyn Laubscher, tesourier van AfriForum se Benoni-tak.
