In Benoni staan AfriForum sterk met sy meer as 1 400 lede in dié gemeenskap. Die tak onder voorsitterskap van Archie Mouyis, die buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en verskeie ander rolspelers glo in spanwerk om misdaad in die omgewing te bekamp en hok te slaan. Dit is ook ’n tak wat daadwerklik glo in omgee en ruim bydra tot die versorging van bejaardes, kinders en ander kwesbare mense. Daar is ook ’n spesiale projektespan wat weekliks beplan aan opruim- en skoonmaakprojekte, terwyl slaggate gevul, gras gesny, padtekens geverf en ander broodnodige dienste gelewer word. Volgens Mouyis is onderlinge samewerking en spanwerk deurslaggewend om Benoni veiliger te maak. Dwelmmisbruik, onwettige myners en werkloosheid is van die grootste uitdagings in die gebied wat misdaad verhoog. Gevolglik word baie tyd en hulpbronne aan opleiding bestee om soveel mense moontlik weerbaar en paraat te maak. “Die munisipaliteit is feitlik heeltemal wanfunksioneel en ons as gemeenskap doen alles in ons vermoë om selfversorgend te wees en onafhanklik te werk om ’n verskil te maak,” sê Mouyis.
