Forum Nuus: AfriForum Jeug hoop boek sal Ramaphosa help om ekonomiese valshede te korrigeer 6-7-2022

AfriForum Jeug het vanoggend ’n eksemplaar van die boek Economic Facts and Fallacies deur die Amerikaanse skrywer en ekonoom Thomas Sowell aan ’n verteenwoordiger van die kantoor van pres. Cyril Ramaphosa by die Uniegebou in Pretoria oorhandig.

Robert Hlongwane, van die presidensie, het die boek by René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, ontvang. Die groep jongmense het dié gebaar van wantroue getoon omdat die ANC-regering nooit daarin slaag om werk te skep nie.

Van der Vyver sê die hoë werkloosheidskoers onder jongmense in die land is ’n groot bekommernis. “Ons glo dat die bedrieglike en vernietigende ekonomiese beleide en beginsels waaraan die ANC-regering vasklou, ten koste van jongmense se toekoms is.

“Die president het op 13 Junie in sy nuusbrief gesê die ANC se eerste prioriteit sedert 1994 is werkskepping. AfriForum Jeug is egter bekommerd dat die ANC-leierskap eerder ’n struikelblok in die jeug se pad is, want die werkloosheidskoers onder die jeug het die afgelope drie dekades net al hoër geraak.

“Die boek wys talle ekonomiese valshede uit en ons hoop dit sal die regering help om die koers van Suid-Afrika se ekonomie te korrigeer. Die president het gesê hulle beoog om ’n nuwe maatskaplike indiensnemingsfonds te loods. Sulke onvolhoubare benaderings bemagtig nie die jeug nie, maar maak hulle eerder meer afhanklik van die staat. By AfriForum Jeug het ons geleer jongmense in Suid-Afrika moet staatsbestand wees om sukses te behaal,” sê Van der Vyver.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.