Drie plaasaanvallers is vandag swaar vonnisse opgelê in die Hooggeregshof in Pretoria. Lawrence Refemate Makhubela, Cornelius Makatu en Jacob Maponyane Seokola het in Desember 2020 vir Dries (75) en Mariaan (nou 71) Nieuwoudt op hulle hoewe buite Pretoria aangeval. Die egpaar is die Maandag aangeval en Mariaan, wat in die badkamer toegesluit was, kon eers die Woensdagoggend die deur se slot met haar kierie oopbreek en hulp ontbied. Dries se beserings was so ernstig dat hy by die hospitaal dood verklaar is. Al drie aanvallers was ten tyde van die aanval op parool gewees en Makhubela was slegs twee maande op parool toe hy hierdie misdade gepleeg het. Die aanvallers het onder meer juwele en ’n vuurwapen gebuit. Mariaan het aan Forum Nuus gesê daar was nie kontant in die huis nie, slegs die geld in Dries se beursie. Regter Papi Mosopa het al drie lewenslank gevonnis vir die moord op Dries, sewe jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Makhubela het ook vyf jaar ontvang vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en nog twee jaar vir die besit van onwettige ammunisie. AfriForum se traumaeenheid het die gesin ná die aanval ondersteun.
