AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag klaers in die Landdroshof in Pretoria ondersteun waar drie metropolisielede op verskeie ernstige klagtes insluitend korrupsie, ontvoering en intimidasie verskyn het. Adv. Gerrie Nel, hoof van dié eenheid, sê dis tyd dat ’n einde gemaak word aan hierdie soort magsmisbruik en dat die publiek nie in vrees vir die polisie hoef te leef nie. Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid by die Tshwane Metro, het ook die verrigtinge bygewoon en daarop gewys dat metropolisielede wat hulself aan misdaad skuldig maak, geen genade kan verwag nie.
