Die Voortrekkermonument (VTM) het onlangs ’n museumteater geopen wat fokus op die groot gebeure in die Afrikanergeskiedenis van 1902 tot nou. Hierdie tydperk in die geskiedenis word in 12 tonele vertel en is ’n verhaal van swaarkry, geloof, hoop en toekomsbou. Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die VTM, is die Afrikaner weer eens op die voorgrond aangesien hierdie teater ’n eerste in sy soort in Afrika is. “Al is en was daar ongelooflike uitdagings en struikelblokke, kan ’n mens nie anders as om die toekomsbou raak te sien en hoop te hê nie.” Die teater is klein, intiem, asook interaktief en tien mense kan dit op ’n slag besoek. Die teater is Dinsdae tot Sondae oop en besprekings kan by www.vtm.org.za gemaak word.
