AfriForum Sakenetwerk het vanjaar in samewerking met Akademia die sewende Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangebied en Danie Rossouw van The Butcher & Son is as die wenner aangewys. Sedert dié kompetisie vir die eerste keer in 2017 aangebied is, het meer as 350 entrepreneurs al vir dié kompetisie ingeskryf. Groot pryse was op die spel en Rossouw het onder meer R50 000, ’n handelsmerkpakket by Kwikstert en handelsmerkbeskerming van STEYN IP gewen. Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder vir AfriForum Sakenetwerk, wil hulle met hierdie kompetisie entrepreneurs aanmoedig en beloon. “Ons sien hulle harde werk raak en ons weet dat dit harde werk verg om in Suid-Afrika sukses te behaal. Ons glo dat die pryse en blootstelling die wenner, asook die ander deelnemers ’n hupstoot met hul onderskeie ondernemings sal gee.”
