Nege reuseletters – wat die woord “Afrikaans” uitspel – reis van Donderdag 1 Mei saam met ’n span van die Solidariteit Beweging na die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vir Afrikaans Amptelik 100 se feesvieringe wat op 8 Mei begin. Die letters is sowat 2 m hoog en weeg altesaam 720 kg. Die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer vertrek vroegoggend op 1 Mei vanaf die Sol-Tech-kampus in Centurion en sal om 09:00 by die Shell N1 Ultra City Kroonstad-vulstasie stilhou en weer om 13:00 by die Shell N1 Ultra City Bloemfontein. Die geselskap sal dan op 2 Mei om 09:00 by die Engen 1 Stop Swartberg in Beaufort-Wes wees en om 13:00 by die Engen 1 Stop Laingsburg. Inwoners en vakansiegangers is welkom om foto’s van die letters te neem en ook wanneer dit by die Afrikaanse Taalmonument uitgestal word.
