Die land se voorste hoërskool-debatteerders het Saterdag (27 September 2025) in Centurion byeengekom om aan die finale ronde van AfriForum se Nasionale Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie deel te neem. In die senior kategorie het Hoërskool Durbanville koning gekraai teen Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, terwyl Hoërskool Waterkloof met Paul Roos Gimnasium afgereken het in die junior kategorie. Forum Nuus het gaan inloer hoe dié spanne hierdie taai (woorde)stryd aanpak en met die wenspanne gaan gesels. Nicolene Muller, AfriForum se Projekkoördineerder vir Onderwys, verklap ook iets oor hul groot planne vir Dink of Sink 2026 – wanneer dié gewilde debatskompetisie ’n volle dekade van dink, redeneer en baie praat vier.
