AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie gesê dat die Presidensie, die ANC en hul bondgenote se pogings om AfriForum die skuld vir Trump se uitsprake te gee, ’n duidelike poging van pres. Cyril Ramaphosa en die ANC is om hulself te probeer verontskuldig vir die negatiewe gevolge van hul eie onbesonne, ekstremistiese beleidsrigtings en optrede. Dit volg ná Donald Trump, Amerikaanse president, gesê het dat hy befondsing aan Suid-Afrika gaan staak. AfriForum het hard gepoog om plaaslik, deur middel van gesprekvoering met Ramaphosa en die ANC, oplossings te vind vir die krisis wat die polariserende Onteieningswet en Bela geskep het.
