AfriForum het vandag sy veiligheidsbloudrukplan aan taklede by die organisasie se nasionale kongres buite Bela-Bela bekendgestel. Samewerkingsooreenkomste is reeds met die Kaapstad- en Tshwane-metro onderteken om samewerking in verskeie sfere te bevorder. Die reusetekort aan polisielede en ander uitdagings veroorsaak dat gemeenskapslede toenemend moet ingryp om hul eie en hul gemeenskappe se veiligheid te verseker. AfriForum het daarom beheerkamers opgerig wat kommunikasie tussen buurtwagte en veiligheidsrolspelers verbeter. Die organisasie se ongeveer 170 buurtwagte ontvang ook gereeld opleiding sodat hulle binne die raamwerk van die wet optree wanneer hulle hul gemeenskappe beveilig.
