Forum Nuus: AfriForum en Mthwakazi KaMzilikazi herdenk gedeelde geskiedenis 20-08-2024

AfriForum en die Mthwakazi KaMzilikazi het op 17 Augustus die Slag van Mosega-monument buite Zeerust skoongemaak. Die Mthwakazi KaMzilikazi is histories die Matabele genoem en staan ook bekend as die Ndebele van Mzilikazi.

Tydens die Slag van Vegkop op 16 Oktober 1836 is die Potgieter-trek deur ’n mag van koning Mzilikazi aangeval en van al hul vee beroof. ’n Kommando is daarom georganiseer om koning Mzilikazi aan te val en die verlore vee terug te kry.

Op 17 Januarie 1837 het ’n voortrekkerkommando met die hulp van Barolongs en Griekwas koning Mzilikazi se nedersetting by Mosega aangeval. Duisende stuks vee is teruggeneem en koning Mzilikazi se magte is verslaan.

Die Voortrekkers het ’n tweede veldtog teen koning Mzilikazi onderneem in November 1837 waarna koning Mzilikazi en sy volgelinge hulle gaan vestig het in die hedendaagse Zimbabwe, met Bulawayo as hoofstad. In 1847 het ’n kommando onder leiding van Hendrik Potgieter ’n laaste veldtog teen koning Mzilikazi onderneem.

In 1853 is daar vrede gesluit tussen Hendrik Potgieter, Andries Pretorius en koning Mzilikazi onderskeidelik. Koning Mzilikazi se seun, koning Lobengula, het in 1877 ook ’n verdrag met die destydse ZAR gesluit waarin daar, soos in die 1853 verdrag, gestel word dat daar “ewigdurende vrede en vriendskap” tussen die partye sal wees.

Die Mthwakazi KaMzilikazi staar erge vervolging en onderdrukking deur die huidige regime in Zimbabwe in die gesig en is besig om bande met ander kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika te smee met die droom om hulself in staat te stel om na hul eie land terug te keer en in vrede met ander kultuurgemeenskappe in die streek saam te leef.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.