Dis uiteindelik hier:- ADAM se nuwe album en video laat ‘bewe’
Die gewilde sanggroep ADAM (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) se splinternuwe album, Bewe, is vanaf vandag landwyd en ook op digitale platforms beskikbaar. ’n Ekstra bederfie vir bewonderaars is ook hul musiekvideo vir die eerste enkelnit, Sê My (Bewe), wat pas vrygestel is. En dis iets wat jy wil sien.
Dié prettige tong-in-die-kies-video, wat deur Gerhard van Rooyen van GVR Productions vervaardig is, pas perfek by hierdie opgewekte poptreffer wat geïnspireer is deur stigterslid, Hugo Ludik, se eie mislukte pogings om ’n oulike meisie by ’n kroeg raak te loop. Dit is by Presleys in Pretoria verfilm en wys skreeusnaakse tonele van drie ouens, wat by drie ‘dames’ aanlê… maar daar is ’n catch, want die drie dames word ook deur die drie sangers gespeel! En sjoe, lyk hulle nie te ‘oulik’ nie…
Volgens Reynardt Hugo was dit baie pret om die video te skiet, maar ook nogal ’n groot uitdaging omdat hulle elkeen twee karakters moes vertolk en Suna Roberts vir hulle spesiale grimering en uitrustings hiervoor moes doen. “Dit vat lank om so iets te skiet en ons was baie moeg, maar ek glo dat mense dit gaan geniet omdat die konsep briljant, uitdagend en baie in jou gesig is. Ek speel ’n zef ou wat verlief raak op myself as ’n vroulike karakter,” verklap hy.
Oor die idee agter die video, sê Kyle Grant: “Die liedjie self het die idee vir die video geïnspireer. Daar word basies gegrap met daardie ouens en meisies in nagklubs wat te hard probeer om ‘hot’ te wees. So dis beslis iets waarmee almal sal kan vereenselwig. Alhoewel dit lank gevat het om in elke karakter in te kom, was dit baie pret en ons het vreeslik gelag. Ons speel elkeen twee rolle, ’n zef outjie en dan die meisie waarop die outjie verlief raak. Hugo se manlike karakter is die tipiese breker en die meisie redelik desperaat. Reynardt se oukie is ’n bietjie stadig en die meisie ’n regte dame, terwyl ek regtig die zefste outjie en bitsigste dame speel wat daar is.”
Loer hier na die musiekvideo: ADAM – Sê My
