Danksy die ingryping van AfriForum se privaatvervolgingseenheid is ’n ouerpaar van Pretoria vandag in die Hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en kinderverwaarlosing nadat hulle hul baba sedert die ouderdom van vyf weke in Maart tot Julie 2020 mishandel het.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag opgetree in hierdie saak en ook die klaers, twee dokters en ’n maatskaplike werker, bygestaan met die lê van strafregtelike klagtes by die SAPD. Die hof het skokkende getuienis in verband met die aanrandings en verwaarlosing aangehoor. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, sê die uitspraak is ’n oorwinning vir hierdie kind en ook vir geregtigheid. Die eenheid is tans by soortgelyke sake betrokke en sal nie skroom nie om stappe te doen om te verseker dat vervolging ingestel word in sake van geweld teen vroue en kinders. Die ouerpaar sal in Desember gevonnis word.
