As ons vir ons en ons nageslag ’n toekoms wil hê, is dit baie belangrik dat ons op ’n basis van wedersydse erkenning en respek leef met die mense met wie ons die land deel, sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Daarom het AfriForum en Saai hierdie week afgeskop met ’n gesamentlike inheemseveldbok-landbouontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile-koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap. Die projek word saam met iNkosi Zwelothando Mabandla aangepak en 21 Nguni-inheemseveldbokke is op iNkosi Zwelothando se plaas Mncetyane gevestig. Gerhard Lourens, visepresident van die inheemse veldboktelersgenootskap van Suid-Afrika, het ook praktiese opleiding aangebied vir die mense op die plaas oor die basiese toediening van medisyne en die versorging van die bokke.
Die betrokke partye beoog om die projek in ses jaar uit te bou tot ’n winsgewende en volhoubare inheemseveldbokboerdery.
