Die gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek van AfriForum, Saai en die Boiphitlhelelo Koöperatief by Noga’s Post in die Barolong Boo Seleka Koninkryk by Thaba ’Nchu het verlede week die projek se tweede graanoes gelewer. Weens die hoë somerreënval in die 2021-plantseisoen kon mielies nie weer aangeplant word nie en is daar besluit om koring te plant. 8,5 ton koring is geoes en aan die OVK op Tweespruit gelewer. Die projek dien as ’n nederige voorbeeld van wat bereik kan word deur samewerking en is ook ’n bewys van ons toewyding om ’n volhoubare, selfstandige en welvarende nasie te word, sê Kgosi Gabo Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka.
