Die AfriForum-tak in Centurion het die behoefte om onder meer parke skoon te maak, padtekens te verf en slaggate te herstel raakgesien en ’n buurtspan op die been gebring om aan hierdie knelpunte aandag te gee. Daar is tans ses werknemers in hierdie span wat daagliks gras sny, skoonmaak en ander take verrig. Volgens André de Bruyn, AfriForum-takvoorsitter in Centurion, het munisipale dienste só agteruitgegaan dat dié tak hard werk om nog meer buurtspanne aktief te kry.
