“Wat julle dalk as klein goedjies of dade beskou, bring vir ons groot opwinding. Dit laat ons ou mensies se harte so warm klop. Dankie dat julle in hierdie moeilike tyd aan ons gedink het.”
Só sê Joan Labuschagne, voorsitter van die Cappie-tehuis vir bejaardes, een van 20 tehuise waar die Covid-19-taakspan, bestaande uit AfriForum, Helpende Hand en Saai, vandag meer as 5 ton vars produkte versprei het. Hierdie inisiatief behels dat voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige individue, gesinne en instansies regoor die land versprei gaan word, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulleself bevind.
