AfriForum Jeug-lede van regoor die land het die afgelope naweek dié organisasie se jaarlikse kongres net buite Parys bygewoon. Tydens hierdie kongres is die jeug met kennis en vaardighede bemagtig wat hulle weer by hul onderskeie AfriForum Jeug-takke kan gaan aanwend. Sessies is aangebied om die jeuglede te help om onder meer hul takprojekte beter uit te voer en finansies doeltreffend te bestuur. Die jeug het ook die geleentheid gekry om verhoudings met ander jeuglede te vestig. Daar is tydens die kongres ook op persoonlike ontwikkeling gefokus en tussen dié leersame sessies het hulle ook kleilat gegooi, vlugbal gespeel, ’n potjiekoskompetisie en cantus gehou.
