Emigrasie het die afgelope jare ’n werklikheid geword. Baie ouers en grootouers het in die land agtergebly toe hul kinders en kleinkinders ge-emigreer het. Juis daarom het AfriForum Wêreldwyd vandag ’n kuieroggend vir ouers met kinders in die buiteland gehou. Douline Minnaar, ’n psigiatriese verpleegkundige, was die gasspreker van die oggend. Sy het raad en wenke gedeel om die emigrasieproses en verlange beter te hanteer. AfriForum Wêreldwyd hou sedert AfriForum se ontstaan kontak met Suid-Afrikaners in die buiteland. Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van AfriForum Wêreldwyd, was hierdie kuieroggend ook die ideale geleentheid vir die gaste om ’n ondersteuningsnetwerk te vorm met mense wat ook geliefdes in die buiteland het. Hierdie netwerk help met die groot aanpassing en emosionele wipwarit.
