AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings, wat innoverende Afrikaanse ondernemings beloon, word vanjaar in streeksverband aangebied. Dit is die negende keer wat hierdie toekenningsgeleentheid aangebied word en ook die eerste keer dat 50 ondernemings toekennings ontvang. Die toekennings is reeds in Potchefstroom en in Pretoria aangebied en sal ook in Groot-Brakrivier, Durbanville en Kimberley aangebied word. Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, wil hulle ondernemings en entrepreneurs in hulle gemeenskap bekroon, dáár waar hulle die hart van die gemeenskap is.
