AfriForum het ’n memorandum aan die Mangaung-metro oorhandig rakend die swak vullisverwyderingsdienste wat dié metro aan inwoners van Bloemfontein lewer. AfriForum eis in die memorandum dat 651 inwoners op hul munisipale rekening kwytgeskeld word om vir dié diens te betaal aangesien hulle van privaat dienste gebruik maak. Artikel 35 van die Mangaung-metro se verordeninge met betrekking tot afvalbestuur bepaal dat die gemeenskap hul reg kan uitoefen om kwytgeskeld te word om van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik te maak. Die metro het die memorandum in ontvangs geneem en gaan dit in die komende week bespreek. AfriForum is reeds in gesprek met die organisasie se regspan om hierdie saak verder te voer indien die metro nie hierdie inwoners wil kwytskeld nie. Inwoners van die Rosestad sukkel al vir ’n geruime tyd met ongereelde vullisverwydering en in baie gevalle maak inwoners van privaat dienste gebruik. AfriForum het weens die gebrek aan vullisverwydering in September 2020 inwoners se vullis begin verwyder. Hierdie diens word steeds gelewer en inwoners wat hiervan gebruik wil maak, kan op AfriForum se webtuiste by dié diens aansluit.
