Jan Brand van Rooyen de Wet is op 3 Februarie 1950 in Harrismith gebore. Hy was een van RAU se eerste studente, en het saam met een van sy medestudente, Marti Hellferscee, ‘n sanggroep, Jan en Marti, in 1969 begin. Saam het hulle ligte Afrikaanse liedjies gesing, en is met luide applous op studente konserte begroet. Hulle medestudente het hulle aangemoedig om by Brigadiers aan te klop om ‘n plaat te maak. So het dit gebeur dat hulle Albie Venter genader het en hulle eerste langspeler, Hi-puri-iuki, in 1972 uitgereik is. Met Jan se skeppinge van die titel lied, asook Ai, meisie meisie, As ek by jou kan wees, Vriendskap en Kosliedjie, waarmee hy die draak gesteek het met die groot eters van ons land, het hy ‘n voorsmakie gegee van groter dinge wat sou kom. Hulle het daarna gereeld in die voorprogram vir Groep Twee opgetree.
Jan het besef dat daar ook op die gebied van die Christelike lied, veral na die Jeug tot Jeug-aksie
van 1974, ‘n oplewing onder die jeug was. Jongmense wou hulle godsdiens in hulle eie idioom beleef, en het in ‘n toenemende mate begin om geestelike liedere met kitaarbegeleiding te sing. Maar hierdie liedere was byna alles in Engels en daarom het Jan begin om soortgelyke liedere in Afrikaans te komponeer. Jan en Marti se eerste geestelike plaat het in 1973 verskyn met die titel Dis waar. Hulle tweede plaat met ‘n geestelike strekking, Jongelinge, ten bate van die ACSV op Stellenbosch, is in 1974 versprei. Dit was een van die beste geestelike plate van die sewentigs.
Hierdie liedjie is vanaf die albums “Kersfeesgroete” en “Een Wonderlike Aand”, waarvan die snitte identies is, en wat beide in 1972 uitgereik is.
