Min Shaw is ‘n Suid-Afrikaanse sangeres wat op 26 November 1934 in Johannesburg gebore is as Wilhelmina Jacoba Viviers. Sy het Helpmekaar Meisies Hoërskool bygewoon in dieselfde jare toe die beroemde operasangeres, Mimi Coertse, daar op skool was (Min was in standerd 7, of graad 9 deesdae, toe Mimi in matriek was). Na skool het sy haarself as ‘n onderwyseres bekwaam, terwyl sy na-ure in restaurante in Johannesburg en Benoni gesing het. In 1961 het sy LM Radio se talentkompetisie gewen waarvan die eerste prys ‘n reis na Londen, Engeland, en ‘n optrede op televisie aldaar was.
Met die hulp van die baie bekende orkesleier, Dan Hill, het Min haar eerste solus sewe, “Kleine Nagtegaal”, in June 1966 uitgereik, en het in 1967 saam met Gé Korsten in die rolprent “Hoor My Lied” opgetree, en ook “Die Heidelied” in duet saam met hom gesing. Dit is tot vandag een van haar gewildste opnames. Oor die jare het Min in verskeie rolprente opgetree:
1. “Jy Is My Liefling” – 1968
2. “Die Danie Bosman Storie” – 1969 (saam met Frans Marx)
3. “Lied in My Hart” – 1969 (saam met Gé Korsten en Mitzi Stander)
Min Shaw, wat meer as 40 albums en 500 liedjies in haar loopbaan opgeneem het, het vanaf die laat sestiger jare ‘n vennootskap met Lance James gesmee en saam het hulle ‘n groot aantal albums in duet uitgereik, insluitend “Bymekaar” in 1968 en “Weer Bymekaar” in 1982. Vanaf 1975 het sy haar egter toegespits op gospel musiek. Sy het 3 SARIE-toekennings tydens haar loopbaan ontvang, en 2 van haar albums het goue status, 1 platinum en 1 dubbel platinum status behaal. Hoewel sy binnekort 87 jaar oud sal wees, het sy so onlangs as verlede jaar nog opgetree. Sy woon in Johannesburg.
Hierdie liedjie is vanaf die albums “Kersfeesgroete” en “Een Wonderlike Aand”, waarvan die snitte identies is, en wat beide in 1972 uitgereik is.
