Lance James Liebenberg is op 18 Julie 1938 in Germiston gebore. Hy het reeds op die ouderdom van 9 sy eerste talentkompetisie in Margate gewen. Nadat hy sy skoolopleiding aan Parktown Boys High voltooi het, het hy in 1954 as aanbiedings-assistent by die SAUK begin werk. Vanaf 1959 tot 1961 het hy in Londen, Engeland, gewoon om sy sangloopbaan te bevorder, en was daar lid van ‘n kwartet met die naam Group 1.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in die orkeste van Dan Hill, Sam Sklair, Ralph Baleson en Werner Krupski gesing, en het sy eerste solus sewe, Hey Good Lookin’, in 1963 uitgereik. Hy het in 1964 weer by die SAUK aangesluit as musiek samesteller en het later ‘n baie gewilde omroeper geword. Nadat hy nog twee solus sewes uitgereik het, het hy in 1968 ‘n duet album, Bymekaar, saam met Min Shaw opgeneem. Hulle was baie gewild as sangpaar, en het in 1969 ‘n SARI-toekenning ontvang as Beste Sanggroep. In 1969 het Lance ook die baie gewilde liedjie, Dankie, vrygestel. In 1971 het Lance sy buiging as rolprentakteur gemaak in die film Lindie, en is sy en Min Shaw se sangstemme gebruik in die rolprent Danie Bosman. Lance het 6 SARI-toekennings in sy loopbaan ontvang.
In die middel 1970s het hy die program Keep It Country Sondagaande op SAUK begin aanbied. Dit was spoedig so gewild dat hy Country feeste en -konserte begin reël het saam met baie bekende kunstenaars soos Bobby Angel, Barbara Ray, Billy Forrest, Sally Vaughn, Joanna Field en ander.
In 1981 het hy die SAUK finaal verlaat om hom voltyds aan sy musiekloopbaan te wy.
Lance is op 15 Januarie 2020 gehospitaliseer met hartprobleme, maar het ‘n groot terugslag gehad toe hy geval en sy heup gebreek het. Na ‘n heupvervangingsoperasie het hy infeksie opgedoen het, en hoewel hy etlike weke in die intensiewe-sorgeenheid was, het hy nooit herstel nie. Hy is op 2 Maart 2020 in die ouderdom van 81 oorlede. Hy het nog gereeld opgetree tot en met sy hospitalisasie, en het so onlangs soos 2019 sy laaste album op CD uitgereik, ironies genoeg met die titel Swansong.
Lance het vier SA Top 20 treffers gehad:
1. Lance James – Dankie – 1970, #13, 6 weke
2. Lance James – Vicki 1971, #4, 14 weke
3. Lance James – What’s your mama’s name child – 1973, #17, 5 weke
4. Barbara Ray & Lance James – After the fire is gone – 1977, #5, 16 weke
Hierdie liedjie is vanaf die albums “Kersfeesgroete” en “Een Wonderlike Aand”, waarvan die snitte identies is, en wat beide in 1972 uitgereik is.
