Marie van Zyl is op 15 Desember 1942 in Roodepoort gebore. Selfs as kind het sy verskeie talentkompetisies gewen vir haar sang, en het in die vroeë 1960s formele opleiding in musiek, spraak en drama in Londen gekry by verskeie vooraanstaande instansies, insluitend Trinity College of Music, Royal Academy of Dramatic Art en Stanford College. Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy in musiekblyspele soos Guys and Dolls, Little Mary Sunshine en Don’t Stop The Carnival opgetree.
Sy het haar eerste solus sewe onder die skuilnaam Bobby Day uitgereik in 1971, en het daarna saam met Nico Carstens se orkes opgetree as sangeres. Sy was baie gewild onder die troepe op die grens tydens die Bosoorlog, as gevolg van gereelde toere wat sy in daardie gebiede onderneem het. In 1975 het sy as omroeper vir LM Radio begin werk, en is later oorgeplaas na Radio 5 toe LM Radio gesluit het. In Oktober 1982 het sy saam met die baie gewilde Ierse sangeres, Geraldine, deur Suid- Afrika getoer, ook aan die grens. Vanaf 1983 tot 1985 was sy ‘n omroeper vir Radio Hoëveld, en daarna vir tien jaar lank omroeper vir die binnenshuise radio van Pick ‘n Pay se hipermark in Boksburg.
In 1995 het sy en haar man, Poena Malan (‘n voormalige Springbok-atleet), in Danabaai naby Mosselbaai afgetree. Twee maande na Poena se dood was sy betrokke in ‘n insident van motorkaping en ontvoering waartydens sy erg beseer is. Na hierdie insident het sy in 2000 by haar seun, Tony Diessel, in Bellville, Kaapstad, gaan woon. Hoewel sy van haar aanvaller weggekom het, het sy nooit heeltemal van die fisieke en geestelike trauma herstel nie, en moes meer as ses maande in ‘n hospitaal deurbring. Sy het hierna gesukkel om te loop en moes ook weer leer praat. Sy is in Desember 2004 oorlede.
Hierdie liedjie is in 1975 op solus sewe uitgereik.
