Drieka Botha, wie se man Dries in 2017 gesterf het na ’n wrede plaasaanval, het vandag vir een van die beskuldigdes in dié saak gevra om sy masker af te haal en haar in die oë te kyk. Sy het oor die impak van haar man se moord in die Brits-landdroshof getuig kort voor Caiphus Shilenge, wat skuld op haar man se dood beken het, 15 jaar tronkstraf opgelê is. Die saak het al meer as 50 keer in die hof voorgekom en AfriForum se Trauma-eenheid stap sedert die aanval ’n pad met die Botha-gesin. “Ons het nie kennis van die regstelsel nie en ons verstaan nie altyd die prosedures nie, maar ons het egter nie een keer gevoel dat ons alleen deur hierdie diep waters hoef te gaan nie. Geld kan nie koop wat AfriForum se Trauma-eenheid vir ons gedoen en beteken het deur hierdie vyfjaarlange stryd nie,” het Botha buite die hof aan Forum Nuus vertel.
