Virginia Lee & Dan Hill sy Orkes en Koor – Ek sal jou nooit vergeet nie (Dich werd ich nie vergesen)

Virginia de Jager is op 27 Junie 1927 in Port Elizabeth gebore en het haar skoolopleiding aan Noordeinde Grey in Port Elizabeth en aan Victoria Meisies Hoër in Grahamstad ontvang. Op skool het sy uitgeblink in swem en duik en selfs provinsiale kleure vir laasgenoemde verwerf. Na skool het sy as toonbankassistent en klerk by ‘n winkelkompleks gewerk, maar haar belangstelling in verskeie dansvorme, soos klopdans, ballet en akrobatiese dans het daartoe aanleiding gegee dat sy reeds as tiener by vermaaklikheidsplekke begin dans het. By een van hierdie geleenthede is sy gevra om ‘n paar liedjies te sing toe die gereelde sanger siek geword het, en die gehoor se reaksie het haar aangespoor om haar sangtalent verder te ontwikkel en het sy kort daarna vir Port Elizabeth in ‘n landwye talentkompetisie in Johannesburg verteenwoordig.

Aanvanklik het sy in gewilde dansklubs in Port Elizabeth begin optree, maar het in 1957 besluit om na Johannesburg te verhuis en het by die Diamond Horseshoe-nagklub saam met Dan Hill en sy orkes begin optree. Twee jaar later het Archie Silansky haar genooi om te sing op sy langspeelplaat, Club International, wat so goed verkoop het dat ‘n volume 2 en heelwat ander plate later uitgereik is. Virginia het ook saam met Dan Hill se vrou, Artemis, begin sing as Die Sonskyn Susters, en saam het hulle verskeie plaatopnames gemaak. In 1959 het Virginia na Londen, Engeland, vertrek waar sy vir 18 maande in Engeland en Europa opgetree het, onder andere in Duitsland, Nederland, Spanje, Frankryk, en selfs in Ysland en Turkye. In Nederland het sy ook op televisie verskyn.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika in 1961 het sy deur die hele land getoer, asook deur die destydse Rhodesië en Suidwes-Afrika, en nadat sy haar in Durban gevestig het, het sy ‘n musiekskool en opname ateljee aldaar geopen en het die Durbanse Sangfees (wat later as die Suid-Afrikaanse Sangfees bekend gestaan het) begin. Sy is later met Lea Bergman, Clive Bruce se vader, getroud is, het ook vir Clive gehelp om sy sangloopbaan te begin. Tydens haar loopbaan het Virginia meer as 800 liedjies opgeneem, onder andere in 16 verskillende tale, in 1965 deur 37 dorpe en stede saam met die baie gewilde Amerikaanse sanger, Slim Whitman, getoer en ook 2 liedjies saam met hom opgeneem, Suid-Afrika in 1967 by die Barcelona Sangfees verteenwoordig, 6 SARIE-toekennings ontvang en meer as 60 albums uitgereik waarvan 14 Goue Status bereik het.

Virginia Lee, oftewel Ginny, is op 7 Januarie 1990, na ‘n lang stryd met kanker, in die ouderdom van 62 oorlede.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.