Triliogie is in die vroeë 1970s gestig deur Andy Lubbe, Jannie du Toit en Francois (Morg) Jacobs. Daar is op hierdie naam besluit omdat hulle in drie harmonieë gesing het in die styl van Crosby, Stills & Nash. Toe Clive (Dobbel) Doubell ‘n jaar later by hulle aangesluit het, het hulle besluit om die naam Trilogie te behou. Andy is in 1949 in Pretoria gebore en het Grey Kollege in Bloemfontein en Clocolan Hoërskool bygewoon; Jannie is in 1951 in Heidelberg in die voormalige Transvaal gebore en het sy skoolloopbaan aan Menlopark Hoërskool in Pretoria voltooi; Morg is in 1949 in Morgenson gebore en het die plaaslike Landbouskool bygewoon, en Dobbel is in 1950 in Johannesburg gebore en het skool gegaan aan Linden Hoërskool. Na skool het Andy hotelwese in Johannesburg studeer, en nadat hy ‘n paar jaar in die hotelbedryf werksaam was, het hy in die voormalige Nelspruit begin boer (en nog steeds). Jannie het regte aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) studeer en is as prokureur tot die balie toegelaat, maar het kort daarna by Tukkies se Kultuurburo begin werk en het toe besluit om musiek sy voltydse loopbaan te maak. Morg het Staatsleer by RAU studeer en het daarna by Tukkies se Aula Teater as bestuurder gewerk tot en met sy aftrede. Dobbel het elektroniese ingenieurswese, ook aan RAU, studeer en daarna ‘n maatskappy besit wat elektroniese toerusting aan, onder andere, Denel voorsien het.
Jannie du Toit het in 1971 vir Morg Jacobs op RAU ontmoet en hulle het lede van die studente-orkes, Sterau, geword. Toe hulle ’n tromspeler benodig het, het Jannie vir Andy Lubbe in Pretoria gekontak om ook by hulle aan te sluit. Later het Clive Doubell ook lid van die groep geword, en tydens ‘n besoek aan die Suidkus, waar hulle in bekende vakansieplekke soos Scottburgh en Amazimtoti opgetree het, het hulle besluit om hulle naam na Hilton te verander. Met die vertrek van ander lede nadat hulle hul studies voltooi het, het Andy, Jannie en Morg begin saamsing en het besluit om hulself Trilogie te noem, met Dobbel wat ‘n jaar later by hulle aangesluit het.
Trilogie het aanvanklik Engelse liedjies gesing en het dit soms afgewissel met hulle eie Afrikaanse komposisies. Teen 1973 het hulle hul debuut op radio gemaak in die program Studentevaria, wat destyds deur Sarel Myburgh vir die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika aangebied is. In 1975 het Peter Lotis van Gallo Musiek hulle “raakgesien” en is hulle eerste solus sewe, “Anita Lief”, in daardie jaar uitgereik. Dit was ’n toonsetting van ’n AG Visser-gedig, maar die liedjie op die keersy, “Maanligaand”, was hulle eie komposisie. Danksy hierdie uitreiking het Trilogie gereeld tydens die eerste proef uitsendings van die SAUK televisiediens verskyn, en later daardie jaar het hulle deelgeneem aan die ATKV Crescendo-kompetisie en die afdeling vir eie komposisies gewen.
Oor die jare het Trilogie gereeld opgetree, onder andere tydens “Die Afrikaanse Kabaret” in die Johannesburgse Stadskouburg, maar veral by die folk-klub “Mangles” in Braamfontein waar David Marks, die komponis van die internasionale treffer, “Master Jack”, die eienaar was. Hulle tweede solus sewe, ”Droom Langs Stille Waters”, is in 1976 uitgereik en het ‘n “eervolle vermelding” ontvang tydens die “American Song Festival” wat daardie jaar aangebied is, en hulle het weer die afdeling vir oorspronklike komposisies van Crescendo daardie jaar gewen. Trilogie het in 1977 ontbind toe Andy en Morg uit Johannesburg getrek het.
Andy Lubbe boer steeds in Nelspruit, sing Sondae by sy vrou se teetuin, en is ook die stigter en bestuurder van die Inniebos Kunstefees. Jannie du Toit tree nog voltyds op, maar Morg Jacobs het na Trilogie nie weer gesing nie, en Dobbel Doubell is sowat 3 jaar gelede oorlede.
