Jannie du Toit – Drie-uur in die môre

Johannes Hendrik du Toit is op 13 Desember 1951 in Heidelberg, Gauteng, gebore en is reeds sedert 1971 besig met Afrikaanse musiek. Hy het aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer waarna hy Nasionale Diensplig aan die Lugmaggimnasium in Valhalla voltooi het. Hierna het hy ‘n B Juris LLB aan die RAU (nou UJ) behaal, asook ‘n honneursgraad in Afrikaans aan Tukkies. Hy was lid van die sanggroep TRILOGIE van 1972 tot 1977 en het vanaf 1979 met ‘n solo loopbaan begin. Na voltooiing van sy klerkskap in die regsberoep is hy in 1981 deur prof Chris Lamprecht by die Universiteit van Pretoria aangestel waar hy musiekblyspele geskryf het, onder andere in samewerking met prof Anna Neethling-Pohl. Vanaf 1986 tot 2011 het hy permanent saam met Christa Steyn gewerk en het hulle saam musiek geskryf en wêreldwyd in meer as twintig lande opgetree. Van hulle bekendste verhoogproduksies is Blik en Snaar, Skadu’s teen die muur, De Kleine Man en Jannie en die Tannie.

Jannie het reeds in die sewentigerjare sy eerste liedjies begin skryf, onder andere “Seisoene saam met jou”, “Stadsgeluide”, “Lied van ‘n Swerwer” en “’n Liedjie vir jou” wat die eerste keer tydens die “Musiek en Liriek”-konserte in die laat sewentigerjare gehoor is. Saam met Morg Jacobs en Andy Lubbe van Trilogie het hy ook “Droom langs stille waters” en “Anitalief” geskryf en het Trilogie dit tydens die toets uitsendings van SATV in 1975 gesing. In die tagtigs het hy baie liedjies geskryf vir Tukkies se musiekblyspele, insluitend vir Loeloeraai, Gansdans en RIP, en het hy gereeld solo albums vrygestel, onder andere “’n Liedjie Vir Jou” (1981) en “Drie-Uur In Die Môre” (1987).

In 2011 het hy 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevier en in 2013 het hy ‘n verhoog program getitel “Grys Areas” aangebied saam met Renette Bouwer en neem ook Gisela de Villiers se lied “Die Eggo van jou Oë” saam met haar op. Sedertdien het verskeie verhoogproduksies gevolg, insluitend Cordon Broers se Kossêrt saam met Lochner de Kock (2012), Doep is nie dood nie (2014), Grenzeloos Nederlands (2015), Bonjour Monsieur Brel (2016), Kiekies – Lucas se Liedjies (2016), Oesjaar (2018) en Die Eggo van jou oë wat gedebuteer het by Woordfees 2019.

Jannie du Toit is steeds voltyds betrokke in die musiekbedryf.

Hierdie is die titelliedjie van die album “Drie-Uur In Die Möre” wat in 1987 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.