Michael du Preez het sy opname debuut in 1964 by Gallo gemaak met die album “Swing And Sway” waarop hy begelei is deur Billy Prout-Jones op tromme en Cecil Ferra op bas. Met die opneem van sy langspeelplaat “Die Huwelikslied” is hy deur Hennie Bekker se orkes begelei, terwyl Billy Forrest en Ian Martin vir die produksie en opnames gesorg het. Michael het egter veel vroeër reeds met ‘n sangloopbaan begin en het gereeld die verhoog gedeel met kunstenaars soos Dana Niehaus, wat die volgende oor hom te sê gehad het: “By etlike geleenthede het ek die voorreg gehad om saam met hom op dieselfde konsert verhoog op te tree. Wat my veral van hom getref het, is sy veelsydigheid as sanger en sy sjarmante verhoogpersoonlikheid”.
Michael het in 1969 ‘n solus sewe opgeneem onder die naam Michael Dupree, en in die laat 1970’s onder die verkorte naam Mike du Preez bekend gestaan en opgeneem. Hy was ook in daardie jare ‘n lid van die popgroep Penthouse, o.a. saam met die twee kitaarspelers Roger Harris en Tony Russell. Benewens die feit dat hy ‘n uitstekende sanger was, was hy ook ‘n briljante pianis en het later jare ‘n aantal CDs opgeneem met sang en instrumentale snitte.
Hierdie liedjie is in 1978 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Ek Het Rose Hier Vir Jou”.
