Hans Karl Rudolf Schleiff Neitz is op 28 Desember 1934 in Pretoria gebore, maar het op Brits grootgeword waar hy ook matriek voltooi het. Musiek was ‘n integrale deel van sy opvoeding aangesien sy ma, Elizabeth, ‘n sangeres en orreliste was en ook klavierlesse gegee het. Na skool het hy hom aan die Normaalkollege, Pretoria, as onderwyser bekwaam, waarna hy vir 6 jaar lank wiskundeonderwyser was aan die Hoërskole Gerrit Maritz en Lyttelton in Pretoria. In hierdie tyd is hy getroud met Anna-Maria Barnard van Vryburg en twee seuns is uit die huwelik gebore.
Hy het sy studies voortgesit aan die Universiteit van Pretoria, het die grade B.A. (Sielkunde) en M.A. (Duits) behaal, en was daarna vir 33 jaar lank, tot en met sy aftrede, aan die Departement Duits van die Universiteit verbonde, eers as lektor en later as departementshoof. Hy het ook sy sangstudie voortgesit onder Helena Strauss en professor Gerrit Bon en was in 1961, met die inhuldiging van die eerste Staatspresident van die Republiek, een van die kunstenaars wat opgetree het. Sy eerste plaatopnames het hy saam met Die Boeresangers, onder leiding van Bosman de Kock, en die Kampvuursangers, onder leiding van Con Lamprecht gemaak, en hy het ook baie transkripsie plate vir die SAUK opgeneem saam met die orkes van Jos Cleber. Sy eerste album as solo kunstenaar, “Aandskemering”, is in 1969 op die Unika-etiket uitgereik en hy het hierna nog vele albums uitgereik op verskillende etikette.
Hy het ook op die gebied van klassieke musiek en opera uitgeblink, en het in minstens 12 operas opgetree, onder andere La Boheme, La Traviata en Nabucco. In 1976 is sy stem gebruik vir die sang dele in die rolprent “Vergeet My Nie”, met Hans Strydom en Alice Krige in die hoofrolle, en het hy ook as gaskunstenaar opgetree in Mimi Coertse se televisiereeks, “Mimi”.
Rudi het in 1994 afgetree en het in Pretoria gewoon totdat hy op 6 Februarie 2002 in die ouderdom van 67 oorlede.
Hierdie liedjie is vanaf die klankbaan van die rolprent “Vergeet My Nie” wat in 1976 uitgereik is.
