Gwynneth Ashley Robin – Tesame

Gwynneth Joubert is op 20 Augustus 1960 in Johannesburg gebore. Reeds op die ouderdom van 9 het sy by haar pa se plesieroord, Robinson Lake naby Randfontein, begin sing saam met verskeie groepe, en dis hier waar Jody Wayne haar “ontdek” het, en vir haar ‘n kontrak met die Teal platemaatskappy beding het. Haar ma was op daardie stadium swanger, en haar ouers was van plan om die baba “Ashley” te noem, indien dit ‘n dogter sou wees. Dit was egter ‘n seun en hy is Brenton genoem. Toe daar op ‘n verhoognaam vir Gwynneth besluit moes word, het hulle Ashley daarby ingesluit, asook Robin, na die naam van haar pa se plesieroord waar haar loopbaan begin het.

Gwynneth se eerste solus sewe is opgeneem toe sy 12 jaar oud was, maar “Lolly Lu” het nie goed verkoop nie. Jody het toe besluit om op die rug te ry van die Osmond-koors (die Amerikaanse groep “The Osmonds”) wat op daardie stadum in Suid-Afrika pos gevat het. Die liedjie “Little Jimmy”, wat deur Jody geskryf is, was ‘n huldeblyk aan die jongste Osmond, Jimmy, wie ‘n reuse internasionale treffer gehad het met “Long haired lover from Liverpool” (1973, #7, 15 weke in Suid-Afrika). Gwynneth se “Little Jimmy” het die #1-posisie op die SA Top 20 behaal in 1974, was vir ‘n totaal van 14 weke op die treffersparade, en dit het van haar ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika gemaak.

Later in 1974 het Gwynneth haar tweede SA Top 20 treffer gehad met “Little soldier blue” (#9, 9 weke), ‘n liedjie wat aanklank gevind het by meeste Suid-Afrikaners wie ‘n “troepie” in die “Army” gehad, of geken het.

Sy het gereelde toere deur Suid-Afrika, en veral ook deur Rhodesië waar sy baie gewild was, begin onderneem, tesame met bekende plaaslike kunstenaars soos Jody Wayne, Gert Potgieter, Alan Garrity, Barbara Ray, Murray Campbell, Neil Herbert, Don Stanton, Marie Gibson, Jonathan Butler en Lionel Petersen, en het gereeld op televisie verskyn.

Op 14 Mei 1976 het Gwynneth haar eerste Afrikaanse solus sewe, “Tesame / As ek ‘n lied kon skryf”, opgeneem (hierdie liedjie), en ‘n week later is sy, saam met haar orkeslede, Danie Schoeman, Vic Rall en Robby Potts, tragies dood in ‘n vliegtuigongeluk naby Penge in Mpumalanga. Sy was maar 15 jaar oud.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.