Edwin Carl van Wyk is op 3 September 1951 in Johannesburg gebore en het matriek geskryf aan die Hoërskool Roosevelt, waarna hy nasionale diensplig in die Lugmag voltooi het. Na diensplig het hy ‘n geleentheid gekry het om deur Europa en Suid-Amerika te reis en om ‘n aantal groot operasterre se vertonings by te woon. Hoewel hy van kleins af reeds wou sing, en veral lief was vir romantiese ballades, moes hy eers werk kry en ‘n inkomste genereer, en het hy derhalwe ‘n bemarkingsdiploma verwerf en daarna in die bemarkingsafdeling van ‘n platemaatskappy begin werk.
Na ‘n paar jaar in hierdie pos het hy en twee van die twee platebase, Boet Pretorius en André Viljoen, die idee gehad om ‘n minnesanger te skep en het hulle besluit op die naam “Die Troebadoer”. Ed het twee langspeelplate uitgereik as Die Troebadoer, en sal altyd onthou word vir die ou-Kaapse kostuum wat hy tydens vertonings gedra het, sekerlik in die styl van ‘n Jan van Riebeeck van ouds. “Liedjies Van Liefde En Verlange” is in 1984 en “Ek Sing My Lied” is in 1986 uitgereik, beide op die Decibel-etiket. Nadat Ed se kostuum gesteel is, het hy besluit om sy loopbaan onder sy eie naam voort te sit en het hy in 1989 sy derde langspeelplaat, “Met Liefde”, op die Transistor-etiket uitgereik.
Ed kan in ses tale sing, Afrikaans, Engels, Italiaans, Duits, Frans en Hebreeus. Hy het op ‘n stadium in Johannesburg ‘n sake-onderneming begin waar hy sanglesse gegee en opnames gemaak het, en van sy liedjies is gereeld op televisie in die program Teletreffers vertoon. Hy was ook ‘n baie aktiewe konsert kunstenaar wat landwyd opgetree het.
In Desember 2013 het Ed en sy gesin na Keimoes getrek waar hy en sy vrou Dalene ‘n drankwinkel bestuur. Hulle dogter Michaela studeer onderwys. Ed beplan om in 2021 ‘n gospel CD uit te reik.
Hierdie liedjie is in 1987 op die album “Kersfees Met…” vrygestel.
