Hendrik Susan – Suikerbossie

Cornelis Hendricus Susan is op 4 Mei 1903 in Pretoria gebore. Sy vader was ‘n drukker uit Nederland wat in 1886 na Suid-Afrika gekom het en hier getroud is met Mary-Ann Olivier. Op 14 het hy met vioollesse begin by Len Te Groen, ‘n goeie vriend se pa, en het hy ook later by prof Willem Gerke, les gehad. Hy het skool gegaan aan Eendracht Laerskool, die Jongens Hoërskool (wat later Afrikaans Hoër geword het) en Boys High in Pretoria, en na skool het hy eers in die Staatsdiens gewerk, daarna by die Pretoria Munisipaliteit en later by Len Te Groen se sigaretfabriek.

In 1921 het hy en ‘n groepie musikante, onder andere Vic Davis en Joe Fritelli, vakansie gaan hou in Lourenço Marques (deesdae Maputo) en het hulle een aand in ‘n hotel opgetree. Hulle optrede het soveel byval gevind by die gehoor en bestuur dat hulle uiteindelik vir 3 jaar lank in LM gebly het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy die klavierspeler Dan Bothma ontmoet en het hulle vir 2 jaar lank in Bulawayo in die destydse Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) in ‘n kafee opgetree. Op 14 Julie 1925 is hy met Mabel Middleton getroud en het die paartjie hulle in Suid-Rhodesië gevestig, waar hy en Dan steeds in kafees en hotelle opgetree het. Die Susans se seun is ook hier gebore. Met hulle terugkeer het hy en sy gesin op die familieplaas in die distrik Piet Retief gaan boer, en dis juis hierdie plaas waarop sy liedjie “Huisie in die berge” gebaseer is.

Sy eerste plaatopname was in ongeveer 1933 saam met Dan Bothma en het hy ook in hierdie tyd sy eerste orkes gestig wat tipiese oorsese dansmusiek gespeel het. Hy het voltydse musikante in sy diens begin neem en het uit die staanspoor daarop aangedring dat die lede van sy orkes ‘n swart aandpak met ‘n strikdas optree, ‘n reël wat hy deurentyd toegepas het. Hy het hierna sy eerste nagklub, The Silver Slipper geopen, hoewel die orkes ook in die Waverley Hotel en die Waldorf Kafee in Johannesburg en in Turkstras in Pretoria opgetree het.

Na die totstandkoming van die SAUK op 1 Augustus 1936 het die bekende omroeper, Pieter de Waal, voorgestel dat Hendrik ‘n boereorkes stig om direkte uitsendings oor die radio te doen, op voorwaarde dat slegs Afrikaanse liedjies opgevoer kon word. Hendrik het ook hierna sy eerste Werda Klub geopen waar boeredanse aangebied is, en hoewel die klub aanvanklik gesukkel het, het dit mettertyd baie gewild geword. Die tekort aan Afrikaanse liedjies het Hendrik egter genoop om baie van sy eie liedjies te komponeer.

Die SAUK het die orkes op vier landswye toere gestuur, en om die Werda Klub aan die gang te hou, het Hendrik van twee orkeste gebruik gemaak, met die Werde Klub wat deur sy vrou Mabel bestuur is. Na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy egter die klub gesluit en na Kaapstad verhuis waar hy vir drie jaar lank opgetree het. Hierna het hy teruggekeer na die familieplaas en ‘n nuwe Werda klub in Johannesburg geopen.

In 1955 het sy vol program en deurlopende druk om te presteer daartoe aanleiding gegee dat hy ‘n ernstige hartaanval gehad het, en hoewel hy hierna na Port Elizabeth verhuis het om te rus, het hy ses maande later ‘n tweede hartaanval het. Hierna het hy op sy plaas gaan aftree, en het eers in 1962 weer teruggekeer na die verhoog met die opening van Johannesburg se Stadskouburg.

Op 26 April 1963, enkele dae voor sy 60ste verjaarsdag, is Hendrik Susan op sy plaas aan ‘n hartaanval oorlede.

Hierdie liedjie is in 1954 op die 10″ album “Kom Dans Met Hendrik Susan” uitgereik.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.