Michael de Kock is ‘n skuilnaam vir Con Lamprecht.
Johan Conrad Lamprecht is in 1907 in Johannesburg gebore, maar het vanaf die ouderdom van 6 vir vier jaar in Nederland gewoon met sy ouers en het ook daar begin skool gaan. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika het die gesin hulle op Colesberg gevestig waar sy pa, doktor HA Lamprecht, predikant en later ook Lid van die Volksraad was. Con het dikwels sy pa vergesel wanneer hy huisbesoek gedoen het, en tydens ‘n kuier op die plaas van Sir Abe Bailey het hulle oor Con se musiektalent begin gesels, en het sy pa genoem dat Con graag ‘n saksofoon wou hê. Nadat Con op Lady Bailey se ukelele ‘n deuntjie getokkel het, het Sir Abe vir sy pa geld gegee met die versoek dat hy vir sy seun ‘n saksofoon moes koop.
Op Colesberg het hy musiekonderrig by professor Niederheitman, ‘n Duitse professor wat hom weens gesondheidsredes in Suid-Afrika gevestig het, ontvang, en het hy geleer van die teoretiese en praktiese aspekte van musiek. Na skool het hy sy studies voortgesit aan die Stellenbosse Konservatorium, waarna hy na Engeland is en onderleier en rangskikker van die bekende orkes van Jack Payne geword het. Enkele jare later het hy hom by die BBC se ligte orkes, Brittanje se top orkes van daardie jare, aangesluit en het hy saam met van Henry Hall gewerk. Hoewel hy in 1940 teruggekeer het na Suid-Afrika, is hy 5 jaar later weer na Engeland en het vir ‘n verdere 3 jaar daar gewerk.
In 1949 het Con ‘n pos by die SAUK aanvaar en het op 1 Mei 1950, met die stigting van Springbokradio, musiekorganiseerder vir die diens geword. Hoewel hy talle transkripsie opnames vir die SAUK gemaak het, is sy eerste kommersiële langspeelplaat eers in 1964 uitgereik, en het hy die skuilnaam Michael de Kock se Orkes hiervoor gebruik. Sy orkes was in die vyftiger- en sestigerjare een van radio se gewildste uitsaai orkeste, met Con wat die viool bespeel het, en met Gert Wallis op die trekklavier en Chris du Toit op die kitaar. Hy het later ook Die Kampvuursangers gestig met agt van Suid-Afrika se beste sangers wat lede was van die groep, onder andere Gert Potgieter en Rudi Neitz. Hulle het Afrikaanse liedjies op ‘n besondere wyse aangebied en was baie gewild in radioprogramme soos “Om Die Kampvuur”, en het in 1966 die langspeelplaat, “Serenades Vir ‘n Boerenooi”, uitgereik.
In 1968 het Con voltyds by Kavalier Films begin werk as musiekdirekteur waar hy musiek vir rolprente gekomponeer het. Hy was, onder andere, verantwoordelik vir die tema- en agtergrondmusiek van rolprente soos “Lokval in Venesië”, “Lied In My Hart”, asook die treffer, “Hoor My Lied”, al 3 met Gé Korsten in die hoofrol. Hy het ook die musiek versorg vir Gé se album, “Erika”, wat sy sangloopbaan op koers gekry het.
Con Lamprecht, wat die klavier, klarinet en viool puik kon bespeel en dosyne Afrikaanse komposisies die lig laat sien het, is op 30 Augustus 1972 in die ouderdom van 64 oorlede.
Hierdie liedjie is vanaf die album “Tradisionele Juwele” wat in 1964 uitgereik is, en die titel word op die omslag en etiket verkeerd aangedui as “Kimberley Seties”.
