Forum Sekuriteit, AfriForum se privaat sekuriteitsmaatskappy, se eerste Skerpskutskietdag, wat Saterdag in Pretoria gehou is, was ’n groot sukses. Meer as 600 kaartjies is vir die dag verkoop en skuts kon beïndruk met hul vernuf op die skietbane. Verskeie invoerders en rolspelers in die veiligheidsbedryf het hul ware uitgestal en gedemonstreer. Die AfriForum-veiligheidstudietrust, wat deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer word, is ook tydens die geleentheid bekendgestel. Dié fonds, met ’n beginwaarde van R200 000, gaan studente toegang tot die snelgroeiende wêreld van hommeltuigtegnologie en talle beroepsmoontlikhede bied.
