AfriForum, Save Ngwathe, Metsi Pongpong en ontstoke gemeenskapslede van Parys, Tumahole en Schonkenville het vandag na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantoor in Parys opgeruk oor dié munisipaliteit se onvermoë om skoon drinkwater aan inwoners te lewer.
’n Ingenieursverslag en ’n memorandum, waarin eise vir die dringende oplossing van die waterkrisis in Parys en die omliggende nedersettings uiteengesit word, is tydens die protesaksie aan die munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, oorhandig.
Die betrokke organisasies en die Parys-, Tumahole- en Schonkenville-gemeenskappe eis dat daar dringend by die plaaslike watersuiweringsaanleg ingegryp word. Daar is ook geëis dat die organisasies toegang tot die watersuiweringsaanleg moet kry en dat AfriForum se ingenieurs betrek word in die oorsig, bestuur en uitvoering van projekte by die waterwerke.
