Wierd Duk, ’n joernalis by De Telegraaf in Nederland, het sy heel eerste besoek aan Suid-Afrika afgelê as deel van ’n skakeltoer deur Solidariteit en spesifiek ook om te sien hoe Afrikaners die talle uitdagings in die land aanpak. Hy het saam met AfriForum besoek afgelê by plaasaanvalslagoffers in die Brits-omgewing en onderhoude met hulle gevoer oor die “erg sadistiese” gebeure tydens dié aanvalle. Hy het ook saam met AfriForum se Brits-buurtwag patrollie gery. Volgens Duk kom plaasaanvalle glad nie in Nederland voor nie en wanneer daar oor plaasaanvalle in Suid-Afrika berig word, is dit dikwels genuanseerd in ’n poging om “polities korrek” te wees. Dit terwyl hy meen dat die feite ook eerder weergegee kan word dat meer as 300 plaasaanvalle in 2022 plaasgevind het. Duk meen die slagoffers is helde en sê hul aangrypende verhale moet vertel word sodat mense weet die grumisdade is ’n realiteit. Alhoewel hulle nie in Nederland hierdie tipe geweld of onveiligheid ken nie, is dit vir hom ’n teken van ’n mislukte staat – veral omdat die owerhede weinig doen om slagoffers te help. Duk het ná afloop van sy besoek gesê hy gaan hieroor skryf en dat dit tyd is dat die wêreld moet weet hier is ’n minderheidsgroep in Suid-Afrika wat so goed as moontlik probeer om ’n bestaan in die land te maak. Hy het ook tot die besef gekom dat dit moeilik is om Afrikaners in verband te bring met apartheid en dat dit onregverdig is om jongmense verantwoordelik te hou daarvoor terwyl hulle ná apartheid grootgeword het.
