Daar is talle uitdagings én geleenthede in die hedendaagse Afrikaanse media-omgewing. Gesoute joernaliste het dit vandeesweek by ’n joernalistieksimposium van Akademia beaam en aan die hand van persoonlike ervarings ook vertel hoe die bedryf vandag daar uitsien. Ondanks die talle uitdagings, wat wissel van min hulpbronne, finansiële druk, die verkleining en verjonging in nuuskantore, beskryf hulle dit egter steeds as ’n loopbaan waarin die nuuskierige en belangstellende joernalis hom kan uitleef. “Koerante mag vandag minder druk en minder impak hê, maar solank die mense daaroor praat, leef dit steeds,” sê Barnard Beukman, redakteur van Beeld.
