Die ANC se poging om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het verlede jaar in die parlement sonder ’n tweederde meerderheid gesneuwel, maar ’n nuwe wetsontwerp om dieselfde doel te bereik, bedreig nou weer privaateiendomsreg in Suid-Afrika. AfriForum het ’n nuwe veldtog aangekondig wat hierdie wetsontwerp teenstaan. Dié veldtog sal op plaaslike, nasionale en internasionale vlak gedryf word. Ambassades is vandeesweek genader om die bedreiging van eiendomsreg onder hul regerings se aandag te bring. ’n Manifes is ook opgestel en reeds deur 13 burgerregte-, landbou-, politieke en ander organisasies onderteken. Die publiek kan dit ook doen deur www.onteiening.co.za te besoek.
