Doris Brasch is op 19 September 1929 op Rysmierbult naby Potchefstroom in die Noordwes Provinsie gebore. Sy het op Potchefstroom en Volksrust, asook in Newcastle grootgeword waar sy aan St. Dominic’s Academy skoolgegaan het en aan Gilbert en Sullivan operettes blootgestel is. Op die ouderdom van 14 het haar ouers na Johannesburg verhuis waar sy met sanglesse by Sophie Ginkewitz begin het. Haar eerste oudisie as sangeres was by die SAUK toe sy 18 jaar oud was. Tydens die Johannesburgse Fees van 1956 het sy die sopraan-gedeelte in Mahler se “Wederopstanding” gesing, en in 1958 het sy haar operadebuut gemaak in die rol van Adele in Johann Strauss se “Die Fledermaus” teenoor Gé Korsten, wat op daardie stadium nog heeltemal onbekend was.
Met die Unie-feesvierings in Bloemfontein het sy die rol van Papagena teenoor Dawie Couzyn vertolk in Mozart se “Die Towerfluit”, en met die inhuldiging van die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 het sy as soliste opgetree. Haar eerste langspeelplaat, “Lokstemme Langs Die Wapad”, waarop sy 14 Afrikaanse liedjies sing, is in 1959 uitgereik.
Tydens haar loopbaan het sy as soliste in ‘n groot aantal operas, oratoriums en in talle opvoerings van die SAUK se simfoniekonserte opgetree. Sy het ook verskeie toere saam met die bariton Bob Borowsky onderneem en het minstens 5 langspeelplate, waarvan ek bewus is, saam met hom uitgereik. In later jare het sy kinderliedjies begin opneem, in Afrikaans saam Dawie Couzyn, en in Engels saam met Bob Williams, Jimmy Rayson en Ronnie Wilson. Meeste van hierdie liedjies is deur Betty Misheiker geskryf, en veral haar weergawes van “Die Lappop” en “Die Dapper Muis” was baie gewild.
Doris Brasch, wat deur haar aanhangers die bynaam “Doortjie” gegee is, was vir 55 jaar met Nathan Cooperman getroud, tot en met sy dood in 2005. Sy is op 12 Januarie 2012 in die ouderdom van 82 oorlede.
Hierdie liedjie is in 1959 op die album “Lokstemme Langs Die Wapad” vrygestel.
