Manuel Escórcio – Ere aan Hom

Manuel Maria LaMarque Escórcio is op 16 Desember 1949 in Lourenco Marques (nou Maputo) in Mosambiek gebore. Sy pa, Manuel, was Portugees en sy ma, Maria LaMarque, ‘n Franssprekende dame van Mauritius. Nadat hy in Mosambiek skool gegaan het tot op die ouderdom van 17 het hy na Suid-Afrika verhuis waar hy by die Helderberg Kollege in Somerset-Wes ingeskryf het om sy skoolloopbaan te voltooi. Op daardie stadium was hy slegs Portugees en Frans magtig, en het Engels op skool aangeleer. Afrikaans het hy op gehoor en met die hulp van Afrikaanssprekendes bemeester.

Sy sangstem is as’t ware onder ‘n stort in ‘n seunskoshuis ontdek. Hy het graag soos Mario Lanza probeer sing, en op ‘n dag het ‘n prefek hom gehoor en vir die musiekonderwyseres, Wilhelmina Dunbar, daarvan vertel. Sy het hom onder haar vlerk geneem en hom gehelp om sy stem verder te ontwikkel. Na skool het hy ‘n B.Mus.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, en het ook in daardie tyd onderrig ontvang van Prof van Jaarsveld. Manuel het hierna die graad M.Mus. aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en het later jare ook ‘n graad in Teologie aan die Helderberg Kollege verwerf.

Sy stem is in Desember 1974 vir die eerste keer oor die radio gehoor in Esmé Euvrard se program, “Esmé se Musiekalbum”, hoewel hy reeds ‘n jaar of wat vantevore sy eerste langspeelplaat, “Heaven Bound Soldier” uitgereik het. Nadat hy vir verskeie jare ‘n dosent in musiek aan die Universiteit van Stellenbosch was, het hy in 1977 ‘n loopbaan as ‘n professionele sanger begin volg, beide in die opera en ligte musiek genres. Hy het tydens sy loopbaan in minstens 30 operas vir KRUIK die hoofrol gesing en het reeds 58 albums uitgereik, ook in duet met baie gewilde sangeresse soos Janita Claasen en Rina Hugo, asook saam met bekende kore soos die Jubelatum Sangers en die Drakensberg Seunskoor. Drie van sy albums het platinum- en 4 goue status bereik.

Oor die jare is hy herhaaldelik vereer, onder andere met 2 Sarie- toekennings, ‘n Artes-toekenning, ‘n OKTV-prys vir gospelmusiek, asook die Nederburg-, SAUK- en SAMRO-pryse vir klassieke musiek.

Manuel woon tans in Newlands in Pretoria waar hy, onder meer, ‘n gastehuis bedryf. Na 45 jaar waartydens hy voltyds in die musiekbedryf gestaan het, het hy egter besluit dat hy nou gaan uittree. Hy beplan om in 2022 na Hartenbos te verhuis waar hy in Mosselbaai ‘n beroep as ‘n eiendomsagent gaan volg. Hy beplan ook om in 2022 sy outobiografie, “My Life, My Song”, vry te stel.

Hierdie liedjie is in 1987 op die album “Kersfees Met…” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.