Stu Phillips – Liefdeswense

Stuart Phillips is op 19 Januarie 1933 in St. Eustace naby Montreal in die staat Quebec in Kanada gebore. Aangesien die area hoofsaaklik uit Franssprekende inwoners bestaan het, het hy beide Frans- en Engelssprekend grootgeword. Hy het reeds as kind in die kerkkoor begin sing en was veral lief vir die musiek van Gene Autry. In sy tienerjare het sy gesin na Calgary verhuis waar sy pa as ‘n spoorweg argitek werksaam was, maar toe sy ouers later jare teruggekeer het na Montreal het Stu besluit om in Calgary agter te bly. Na skool het hy verskeie werke gehad totdat by ‘n radiostasie in Edmonton, Alberta, as nuusleser begin werk het, en later ook sy eie ontbyt program, Stu For Breakfast, aangebied het.

Mettertyd het hy tot die besef gekom dat daar nie veel Kanadese liedjies beskikbaar was wat hy kon speel nie, en het hy begin om sy eie te komponeer en te sing. In 1956 het hy in Calgary by ‘n televisie maatskappy begin werk as aanbieder, maar is kort daarna sy eie radioprogram deur die Kanadese Uitsaaikorporasie aangebied, ‘n program waarop hy ook gesing het onder die skuilnaam die “Travelling Balladeer”. Die sukses van hierdie program het weer daartoe gelei dat hy sy eie weeklikse televisieprogram begin aanbied het.

Sy eerste plaatopnames het hy in die laat 1950s gemaak. Sy groot begeerte was egter om lid te word van die wêreldberoemde Grand Ole Opry in Nashville in die VSA. In 1965 het hy en sy familie dan ook na Nashville verhuis en het hy in 1966 sy eerste treffers in die VSA gehad met die liedjies “Bracero” en “The Great El Tigre”. ‘n Jaar later het hy lid geword van die Grand Ole Opry.

Oor die volgende paar jaar het hy verskeie treffers gehad met liedjies soos “Juanita Jones, “Vin Rose” en “Bring Love Back Into Our World”. In 1969 het Stu ‘n toer van 7 weke deur Suid-Afrika onderneem en het hy die langspeelplaat “Your Friend – Always” hier uitgereik. Hoewel daar klaarblyklik planne was dat hy ‘n album in Afrikaans sou opneem, soos Jim Reeves sowat 5 jaar vantevore gedoen het, het hierdie plaat nooit gematerialiseer nie. Hy het wel ‘n solus sewe met die liedjies “Lieflike Mooiste Bruin Oë / Liefdeswense” tydens die toer uitgereik.

In Suid-Afrika het Stu Phillips drie Top 20 treffers gehad:

1. Crystal chandelier – 1968, #11, 9 weke
2. Vin rosé – 1968 #9, 7 weke
3. Speak softly, my love – 1969, #13, 6 weke

In die vroeë 1980s het Stu homself bekwaam as ‘n predikant waarna hy drasties teruggesny het op sy optredes as sanger sodat hy sy verpligtinge teenoor die kerk kon nakom. Hy en sy gesin woon nog steeds in Nashville en hoewel hy deesdae 89 jaar oud is, hy tree ook nog per geleentheid by die Grand Ole Opry op.

Hierdie liedjie is in 1969 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Lieflike Mooiste Bruin Oë”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.