Gereformeerde Blues Band – Hillbrow

Ralph John Rabie is op 27 Maart 1960 in Johannesburg gebore, maar het in Sasolburg matriek voltooi. Op die ouderdom van 11 het hy by troues begin optree en vanaf 13 het hy sy eie liedjies begin geskryf. Na skool het hy aanvanklik by die Universiteit van Pretoria ingeskryf, maar het na ‘n paar dae verskuif na die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Pukke). Hier het hy by studente kuierplekke en partytjies gesing. Nadat hy ‘n graad in kommunikasie, bedryfsielkunde en Engels behaal het, het hy in 1982 na Kaapstad verhuis waar hy ‘n honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. Hy het ook in hierdie tyd by Babs Laker dramaklasse geneem en het in Maart 1986 in sy eerste kabaret, “Met Ander Woorde”, opgetree. Nadat hy Nasionale Diensplig in Voortrekkerhoogte voltooi het, het hy in Pretoria as subredakteur by Die Burger begin werk.

Ralph het vir Koos Kombuis, toe nog bekend as Andre Letoit, in 1987 in Kaapstad ontmoet. Koos het hom genooi om deel te neem aan konserte wat in Bloemfontein gehou sou en Ralph Rabie het toe besluit om die verhoog naam Johannes Kerkorrel aan te neem. Hy het klaarblyklik op hierdie naam besluit nadat hy by ‘n winkel in Kaapstad verbygeloop met die naam Johannes Kerkorrels. Later jare het hy in Johannesburg gaan woon waar hy vir Rapport gewerk het en ook opgetree het in die kabaret “Ons Het Vir u ‘n Kabaret Gemaak” wat in die Black Sun in Yeoville aangebied is. Johannes en Koos Kombuis het later jare gereeld hier opgetree.

In 1988 het Johannes en Koos betrokke geraak by die sogenaamde “Voëlvry” beweging waartydens ‘n aantal Afrikaanse kunstenaars alternatiewe musiek geskryf en opgevoer het waarin hulle protes aangeteken het teen die politieke bestel wat op daardie stadium in die land bestaan het. ‘n Langspeelplaat met die titel “Voelvry” is ook in November 1988 op die Shifty etiket vrygestel tydens die Shifty Musiekfees wat in Johannesburg gehou is. Beide Johannes en Koos het hulle debuut op die album gemaak, hoewel Johannes op hierdie stadium deel was van die groep die Gereformeerde Blues Band. Weens sy betrokkenheid by die “Voëlvry” beweging is hy deur Rapport voor ‘n ultimatum gestel – óf Rapport, óf Voëlvry. Hy het laasgenoemde gekies.

In 1990 het hy Nederland besoek en het sy liedjie “Hillbrow” ‘n treffer geword in België. Hy het ook tydens die besoek vir Stef Bos ontmoet en so het ‘n lewenslange vriendskap ontstaan. In 1989 het Johannes sy eerste solo langspeelplaat “Eet Kreef!” vrygestel, en het in die negentiger jare nog verskeie albums opgeneem, onder andere “Bloudruk”, “Cyanide In The Beefcake” en “Ge-trans-for-meer”. In 1999 het hy verras met die album “Kerkorrel Sing Koos du Plessis” waarin hy hulde bring aan die legendariese sanger en liedjieskrywer.

In 2000 het hy sy laaste album “Die Ander Kant” vrygestel. Hy is op 12 November 2002 naby Kleinmond in die Wes-Kaap in die ouderdom van 42 oorlede.

Hierdie liedjie is in 1988 op die album “Voëlvry – Afrikaanse Musiek Vir Vandag” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.