Johannes Matheus Wessels is op 28 Oktober 1953 in Lusaka in die destydse Noord-Rhodesië (nou Zambië) gebore, en het ook sy skoolloopbaan daar voltooi. Hy het in ‘n Engelse gesin grootgeword en was die oudste van 12 kinders. Reeds op skool het hy in konserte begin optree en het later sy eie groep, Big Gold Six, in Lusaka gestig. In 1979 het sy gesin na Suid-Afrika verhuis en het hy op hulle plaas naby Ogies in Mpumalanga begin boer, hoewel hy in later jare ook as ‘n vragmotorbestuurder, haarkapper en kok gewerk het. Ondanks die feit dat hy ‘n passie vir musiek gehad het, sy eie liedjies geskryf het (uitsluitlik in Engels tot op daardie stadium) en graag ‘n beroep in hierdie bedryf wou volg, het die platemaatskappye nie in sy liedjies belanggestel nie.
Een aand het hy op Springbok Radio na die gewilde program “Keep It Country” geluister toe Cora Marie ‘n gaskunstenaar was. Sy het genoem dat sangers altyd opsoek is na nuwe materiaal, en net daar en dan hy het besluit om sy hand aan die skryf van Afrikaanse liedjies te waag. Kort hierna het hy van sy liedjies vir Cora op kasset band gestuur en het sy hom gebel en gevra om Johannesburg toe te kom vir ‘n oudisie. Cora se man, Corrie Myburgh, het vir hom ‘n plate kontrak aangebied en voorgestel dat hy sy verhoog naam verander na Kupido.
In 1982 is sy eerste solus sewe, “Was Ek Maar ‘n Digter” met “Vanaand Verlang Ek” op die B-kant, vrygestel, met beide liedjies wat deur Kupido geskryf is. “Was Ek Maar ‘n Digter” het in 1983 die #16-posisie op die Top 20 bereik en was vir 4 weke op die treffersparade. Later daardie jaar is sy eerste langspeelplaat, “Country Uit Die Hart” vrygestel, en het hy en Cora ook as duet paar hulle eerste album, “Country In Harmonie”, uitgereik. Al die liedjies op beide plate is deur Kupido geskryf en albei het groot sukses behaal.
Tydens sy loopbaan het hy nog vele albums as ‘n solo kunstenaar vrygestel en het hy minstens 4 langspeelplate saam met Cora Marie uitgereik. Hy het ook in 1991 ‘n plaat saam met Chris le Roux opgeneem en het in 1997 die groep Quattro saam met sy broer, Alan Ladd (oftewel Louw Wessels) en susters Cleo en Angela gestig en het hulle die CD “Deur Die Bloed Gebind” uitgereik. In 2009 het hy die gospel CD “U Regte Weë” vrygestel.
Kupido is op 22 Februarie 2016 in die ouderdom van 62 aan hartversaking oorlede.
Hierdie liedjie is in 1982 op solus sewe uitgereik.
