Gerard Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland, gebore en het in 1936 saam met sy ouers na Suid-Afrika gekom. Ná skool het hy sy vakleerlingskap as elektrisiën voltooi en sy eie elektriese kontrakteurs besigheid in Pretoria begin. In hierdie tyd het hy aangesluit by ‘n koor bekend as die “Minnesangers”, waarvan Mimi Coertze ook lid was. Op die ouderdom van 20 het hy by die Johannesburgse Manskwartet aangesluit en saam met kore van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) begin sing. In 1957 het hy in sy eerste opera as Canio in Leoncavallo se Pagliacci verskyn. Dit het gelei tot baie ander opera-opvoerings, en ‘n geleentheid om in Wene, Oostenryk, te studeer.
In 1965 het hy die musiekmark betree met die album “Gé Korsten Sing Uit Die Hart”, die eerste van 45 albums wat hom 24 goue en 6 platinum toekennings besorg het. Hy het ook 6 SARIE-toekennings gewen, 3 as Beste Manlike Kunstenaar (1966, 1968 en 1969) en 3 vir Beste Afrikaanse Album (“Sing Seeman Sing” – 1969, “Liefling” – 1972 en “Lieflike Droom” – 1974). In 1967 verskyn hy in sy eerste rol op die silwerdoek in “Kruger Miljoene / Kruger Miljoene”, en volg dit op met ‘n verdere 4 rolprent verskynings (“Hoor My Lied / Hear My Song”, “Lied In My Hart / Song In” My Heart”, “A New Life” en “Lokval In Venisië”). Hy het ook sy eie program op televisie aangebied, “Gé Sing” van 1977 – 1979 en van 1983 – 1984. Hiervoor het hy in 1979 ‘n ARTES-toekenning as Beste TV-persoonlikheid gewen.
Hy is in 1952 met Elna Burger getroud en hulle het 2 seuns en 3 dogters gehad. Hy het amptelik in Januarie 1997 afgetree en is op 29 September 1999 oorlede.
Hierdie liedjie is vanaf die albums “Kersfeesgroete” en “Een Wonderlike Aand”, waarvan die snitte identies is, en wat beide in 1972 uitgereik is.
