Ian & DIx – Môre

Ian Mostert is op 11 Januarie 1949 in Kroonstad gebore, en Dix Vorster op 25 November 1948 in Uitenhage, maar sy ouers het na Kroonstad verhuis toe hy 6 jaar oud was. Hulle het ontmoet toe hulle skoliere aan Sentrale Volkskool Kroonstad was, en het vriende gebly totdat hulle hulle skoolloopbaan voltooi het aan Hoërskool Kroonstad (beter bekend as die Blouskool, of net Bloues).

Na skool het Ian ‘n kursus in landbou voltooi aan Glen Landboukollege in Bloemfontein, en Dix het op die myne begin werk en het myn ingenieurswese studeer. Later het hy ‘n beurs ontvang om by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) te studeer, en hier het hy en Ian, wat toe in Johannesburg gewerk het, mekaar weer raakgeloop. Hulle het begin saam sing, en het in 1968 en 1969 twee Engelse solus sewes uitgereik as Ian Dix (nie Ian & Dix) nie.

In hierdie tyd het Ian by die EMI platemaatskappy begin werk, en Dix by die Record and Tape platemaatskappy, en later ook by die Gallo platemaatskappy. In 1976 het hulle vir die eerste keer ‘n opname in Afrikaans gemaak met ‘n liedjie wat deur Jan de Wet geskryf is, met die titel “Sonder Jou”. Dit het hulle grootste treffer geword, het #3 op die Suid-Afrikaanse Top 20 bereik, en was vir 11 weke op die treffersparade. Later in 1976 het hulle ‘n radio treffer gehad met die liedjie “Ware Liefde”, en het tussen 1977 en 1978 nog 4 solus sewes uitgereik, hoewel een van die liedjies, “Iemand Soos Jy”, twee keer uitgereik is met verskillende liedjies op die B-kant.

In 1978 het Dix ook as ‘n vryskut-omroeper by Radio 5 begin werk, en in 1979 is hy verplaas na Durban waar hy later by die SAUK aangesluit het. Ian het in die tekstielbedryf gewerk, onder andere in Durban, in Parys in die Vrystaat, en uiteindelik in Kaapstad. Ongelukkig kon ek net inligting oor die twee opspoor tot en met 1996, en op daardie stadium het Ian in Durbanville naby Kaapstad gewoon, en Dix het ‘n restaurant op Port Edward aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gehad.

Hierdie liedjie is in 1976 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Sonder Jou”. Dis geskryf deur Jan de Wet.

(Visited 72 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.