Esmé Euvrard – Die klokke lui

Esmé Euvrard was ‘n baie gewilde radio omroeper, sangeres en aktrise. Sy is op 19 Mei 1919 in Smithfield in Vrystaat gebore en sal sekerlik altyd onthou word vir die program “Só maak mens” wat sy saam met Jan Cronjé op Springbok Radio aangebied het. Dit was ‘n program waarin huishoudelike raad en resepte met die luisteraars gedeel is, en het oorspronklik in 1950 in Engels begin as “This is how”. In 1957 is daar ‘n besluit geneem om dit na Afrikaans te verander, en die program is deurlopend op Springbok Radio aangebied totdat die radiostasie in 1985 gesluit het. Daarna het Esmé en Jan dit vir nog twee jaar op Radio Suid-Afrika aangebied voordat dit finaal gestaak is.

Esmé het ook die program “Aan die pasiënte” op die Afrikaanse diens van die SAUK aangebied. Dit was ‘n versoekprogram vir hospitaal pasiënte en vir siekes wat tuis versorg is. Hierbenewens het sy die baie gewilde “Springbok Rendezvous” saam met Paul Desmond op Springbok Radio aangebied, ‘n program van musiek en versoeke vir alle mans en dames in uniform.

As aktrise het sy in 1962 in Truida Louw se rolprent “Man in die donker” opgetree, en in 1969 het sy saam met Al Debbo, Dirk de Villiers en Jane Seymour in “Stadig oor die klippe” verskyn. Met die koms van televisie het sy in 1977 teenoor Dana Niehaus opgetree in “Net ’n bietjie liefde”. Sy sal ook onthou word vir haar televisieadvertensies, en veral die een vir Punch waspoeier. In die 1980s het sy ‘n aantal albums met kinderstories uitgereik, onder andere “Hasie Leer Sy Les” (1980) en “Stories Van Lank Gelede” (1982).

Esmé was getroud met die Portugees gebore kitaarspeler Gilberto Bonegio, en hulle het in 1959 saam ‘n album uitgereik met die titel “Esmé & Gilberto”. Hulle het ook aangesluit by Mercedes Molina se dans ateljee toe dit in 1958 geopen het. Gilberto is in 1964 oorlede nadat hy in ‘n motorongeluk betrokke was.

Esmé is op 11 September 1993 in die ouderdom van 74 in Johannesburg oorlede.

Hierdie liedjie is in 1971 op solus sewe uitgereik as die B-kant van “Desiderata”.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.